|
Alta du Toit, na wie die skool en die Alta du Toit Nasorgsentrum vernoem is, is op 4 September 1954 gebore. Twee jaar later is sy met Down-sindroom gediagnoseer.
Met Alta se diagnose het haar ouers, wyle ds Daan du Toit en wyle mev Alta du Toit, die behoefte identifiseer vir 'n sentrum in die noordelike voorstede met fasiliteite vir persone met intellektuele gestremdhede.
Alhoewel die pad na vervulling van hierdie droom vol kronkels en aanvanklike teenkanting was, is die Alta du Toit Sentrum in 1965 ingewy. Die sentrum het in 1976 amptelik 'n staatsinstelling geword.
Soos Alta
en haar vriende by die Alta du Toit Sentrum ouer geword het, is die verdere behoeftes van kinders met intellektuele gestremdhede geïdentifiseer. Hieruit is die Alta du Toit Skool en die Nasorgsentrum geopen. Op die ouderdom van 18 jaar kan hierdie persone aansluit by die Nasorgsentrum, aangesien hulle nie die gewone arbeidsmark kan betree nie.
By die Nasorgsentrum word ons kliënte versorg en bied ons optimale ontwikkeling om te verseker dat elke individu sy/haar volle potensiaal bereik. Die Alta du Toit Nasorgsentrum in Bellville bestaan reeds 32 jaar.
Om die leier op die gebied van dienslewering aan intellektueel gestremde persone te wees.
Gedring deur die opdrag van die Here, dien Alta du Toit Nasorg persone met intellektuele gestremdhede, deur 'n omvattende program wat veilige versorging en optimale ontwikkeling bied, sodat hulle deel van die gemeenskap en gesin kan wees en bly.
Elke individu het unieke behoeftes. Terwyl sommige interaksie met 'n groep verlang en geniet, kan ander eenvoudig nie in 'n groot groep aanpas nie. Sommige is ook meer vaardig as ander. Sommige word vinnig ontwrig, terwyl ander 'n baie goeie geheue het. Kliënte word hanteer volgens elkeen se behoeftes, potensiaal en die vlak van vaardigheid.
Daar is verskillende vlakke van intellektuele gestremdheid en dus ook verskillende funksioneringsvlakke in 'n werksopset. By Alta du Toit Nasorg vind daar 'n noukeurige evalueringsproses plaas om die vaardigheidsvlak van kliënte te bepaal voor hulle in werksgroepe ingedeel word. Lees meer |