Soek ons op Facebook Soek ons op Facebook


Badisa webwerf



Welkom by Alta du Toit Nasorg

Alta du Toit Nasorg is die tuiste van 268 volwassenes met intellektuele gestremdheid, waarvan 184 inwonend is. Die sentrum bied 'n veilige ruimte waarbinne ons lag en speel en werk en die gawes wat God aan ons gee, ontwikkel.

In Alta du Toit is daar plek vir musiek en sport en verlief wees en godsdiens en al dié dinge wat besondere betekenis gee aan die lewe. Ons gaan gereeld op uitstappies en besoek graag die pragtige en interessante plekke in ons omgewing.

Ons het puik werkswinkels waarin matte geweef word, houtwerk gedoen word en die mooiste artikels vervaardig word.

Ons doen ook kontrakwerk vir instansies wat ons baie gewillige hande benut vir take soos om geskenkpakkies te pak vir die Argus fietstoer.


 

In Alta du Toit Nasorg is elke individu se persoonlike belange baie belangrik. Die sentrum beskik oor die dienste van arbeidsterapeute, 'n maatskaplike werker, verpleegpersoneel en 'n span versorgers wat gefokus is op persoonlike aandag.

Dit is ook vir die beheerligaam baie belangrik om aan ouers en familielede sekuriteit te bied. Daarom maak die sentrum voorsiening vir die langtermyn versorging van inwoners. Ons oudste inwoner is tans 74 jaar oud. Ons beskik oor 'n siekeboeg waar met baie liefde omgesien word na inwoners wat fisies verswak is.

Die betrokkenheid van die gemeenskap by Alta du Toit Nasorg is baie belangrik. Ons besoek dikwels gemeentes en ons koor tree op in eredienste. Ons is ook bevoorreg dat lede van die publiek dikwels hulp aanbied met fondsweringsprojekte, dienste aan ons kliënte en die bemarking van die sentrum.

Altasorg is die bemarkingsafdeling van die sentrum. Hulle is verantwoordelik vir die Vriende van Alta ondersteuningsnetwerk. Hierdie netwerk bestaan reeds uit honderde vriende en donateurs. Sonder hulle kan Alta du Toit Nasorg nie die talle drome bewaarheid van ons baie spesiale mense nie.

 

Soek ons op Facebook